Thursday, April 20, 2017

Aan die begin

Vandag hou ek weer nie van my kinders nie. Ek kyk straks voor my uit in die spieël om grimering aan te sit en al waaraan ek kan dink terwyl hulle albei onder my voete kerm en skree is: “hoekom haat ek myself so baie? Hoe kan ʼn vrou haarself so minag om dit aan haarself te doen en vir almal vertel hoe gelukkig sy is? Nege maande is weg van jou. Jy het geen beheer van jou eie liggaam nie. Ongemak, rekmerke, vetsug en kots. En dan begin dit eers. Vuil doeke, skree, moan, min slaap en nog kots. En vir een of ander rede sien ek kans vir nog, so asof een nie genoeg is nie. Fok, ʼn nuwe plooi.

Vandag is ek moeg, geïrriteerd, deurmekaar en gatvol. Ek staan hier voor die spieël en sit my masker aan. Ek is sterk, vol vertroue en glimlag vir die onnoselheid waarmee ons samelewing gestraf word. Ek is mens, ek is vrou en bly vandag uit my pad uit, ek gaan jou stoomrol – met ʼn glimlag op my gesig. My masker. Dis wat almal wil sien, Albertus ingesluit. Hulle wil nie die klein dogtertjie sien wat met haar hande in haar donker (boksgekleurde) hare sit en haarself tussen haar skoene onder in die kas heen en weer wieg en ook net lieg, en lieg, en lieg nie. Alles gaan nie OK wees nie, maar jy sê dit steeds. “Dis nie so erg nie” “Hy is lief vir jou” “Jy is sterk” “Jou kinders hou van jou” En terwyl jou dominante self die voortou wil neem en jy wel uit die as wil klim, dan staan al die ander stemme ʼn kring om jou en lag, want jy is so groot mislukking soos ander en jyself, dink jy is.

Ag, hy het die mooiste oë en dit maak my hart so bly as hy sy handjie uitsteek en vir my mamma sê. My seun, my liefde my lewe. Ek wil vir jou als gee. Al die avonture leer en saam met jou lag en laf wees. My dogtertjie, jy met jou vier tande wat met ʼn helder ogies vir my lag. Ek wil jou net vashou en styf teen my druk. Want genade kind, maak nie saak in watter era jy gebore is nie, jy sal die swakker geslag bly. Ek sal jou moet leer om vir almal met trots jou middelvinger te wys. Jy moet sterk wees. Dit is seker nie maklik om ʼn ma te hê wat in haar kop lewe nie. Ek is daar, maar raak vinnig weggedra na ʼn ander wêreld, droom van die oudae en droom van beter dae. Maak planne vir die toekoms en is teleurgesteld dat dinge nie vandag uitwerk nie. Dis omdat ek gedurig na die wolke kyk wanneer ek stap dat ek nie kyk waaroor my voete val nie. Ek dan kry ek ʼn klein handjie klap deur my gesig en die herhaaldelike “Mamma! Mamma! Mamma KYK!” bring my terug na ʼn deurmekaar huis en ʼn toilet wat nie wil ophou drup nie.


Vandag hou ek nie van my kinders nie, want vandag wil ek ineenstort en ek wil nie getuies hê nie. My swak fondamente is nou eers weer geskud en ek sit met tonne onsekerheid en vrae en alles wat gelyk loop. Albertus wil nie hieroor praat nie, want dis blykbaar al waaroor ek praat. Tog moet ek weet. Ek benodig ʼn stap een, twee en sewentig. Asook opsies a, b en c. Jy weet, soos daardie avontuurboeke: As jy by die deur in gaan, gaan na bladsy 180, as jy weghardloop, gaan na bladsy 3. Dan die groot vetgedrukte woorde op bladsy 3: JOU AVONTUUR IS VERBY. Ten minste kan jy dan oor begin met die verhaal, vat jou goed en trek Ferreira. Net jammer ek het nou te veel goed en wil nie meer trek nie, want – glo dit of nie – ek is meeste van die tyd gelukkig. Waar het my verhaal begin? Hoekom is ek weereens vandag hier? Op ʼn plek waar ek nie wil wees nie? Hoekom moet ek altyd teen die golwe baklei? 

No comments: