Vandag hou ek weer nie van my kinders nie. Ek kyk straks voor my uit in die
spieël om grimering aan te sit en al waaraan ek kan dink terwyl hulle albei
onder my voete kerm en skree is: “hoekom haat ek myself so baie? Hoe kan ʼn vrou
haarself so minag om dit aan haarself te doen en vir almal vertel hoe gelukkig
sy is? Nege maande is weg van jou. Jy het geen beheer van jou eie liggaam nie.
Ongemak, rekmerke, vetsug en kots. En dan begin dit eers. Vuil doeke, skree,
moan, min slaap en nog kots. En vir een of ander rede sien ek kans vir nog, so
asof een nie genoeg is nie. Fok, ʼn nuwe plooi.
Vandag is ek moeg, geïrriteerd, deurmekaar en gatvol. Ek staan hier voor
die spieël en sit my masker aan. Ek is
sterk, vol vertroue en glimlag vir die onnoselheid waarmee ons samelewing
gestraf word. Ek is mens, ek is vrou en bly vandag uit my pad uit, ek gaan jou
stoomrol – met ʼn glimlag op my gesig. My masker. Dis wat almal wil sien,
Albertus ingesluit. Hulle wil nie die klein dogtertjie sien wat met haar hande
in haar donker (boksgekleurde) hare sit en haarself tussen haar skoene onder in
die kas heen en weer wieg en ook net lieg, en lieg, en lieg nie. Alles gaan nie
OK wees nie, maar jy sê dit steeds. “Dis nie so erg nie” “Hy is lief vir jou”
“Jy is sterk” “Jou kinders hou van jou” En terwyl jou dominante self die
voortou wil neem en jy wel uit die as wil klim, dan staan al die ander stemme ʼn
kring om jou en lag, want jy is so groot mislukking soos ander en jyself, dink
jy is.
Ag, hy het die mooiste oë en dit maak my hart so bly as hy sy handjie
uitsteek en vir my mamma sê. My seun, my liefde my lewe. Ek wil vir jou als
gee. Al die avonture leer en saam met jou lag en laf wees. My dogtertjie, jy
met jou vier tande wat met ʼn helder ogies vir my lag. Ek wil jou net vashou en styf
teen my druk. Want genade kind, maak nie saak in watter era jy gebore is nie,
jy sal die swakker geslag bly. Ek sal jou moet leer om vir almal met trots jou
middelvinger te wys. Jy moet sterk wees. Dit is seker nie maklik om ʼn ma te hê
wat in haar kop lewe nie. Ek is daar, maar raak vinnig weggedra na ʼn ander
wêreld, droom van die oudae en droom van beter dae. Maak planne vir die toekoms
en is teleurgesteld dat dinge nie vandag uitwerk nie. Dis omdat ek gedurig na
die wolke kyk wanneer ek stap dat ek nie kyk waaroor my voete val nie. Ek dan
kry ek ʼn klein handjie klap deur my gesig en die herhaaldelike “Mamma! Mamma!
Mamma KYK!” bring my terug na ʼn deurmekaar huis en ʼn toilet wat nie wil ophou
drup nie.
Vandag hou ek nie van my kinders nie, want vandag wil ek ineenstort en ek
wil nie getuies hê nie. My swak fondamente is nou eers weer geskud en ek sit
met tonne onsekerheid en vrae en alles wat gelyk loop. Albertus wil nie hieroor
praat nie, want dis blykbaar al waaroor ek praat. Tog moet ek weet. Ek benodig
ʼn stap een, twee en sewentig. Asook opsies a, b en c. Jy weet, soos daardie
avontuurboeke: As jy by die deur in gaan, gaan na bladsy 180, as jy
weghardloop, gaan na bladsy 3. Dan die groot vetgedrukte woorde op bladsy 3: JOU
AVONTUUR IS VERBY. Ten minste kan jy dan oor begin met die verhaal, vat jou
goed en trek Ferreira. Net jammer ek het nou te veel goed en wil nie meer trek
nie, want – glo dit of nie – ek is meeste van die tyd gelukkig. Waar het my
verhaal begin? Hoekom is ek weereens vandag hier? Op ʼn plek waar ek nie wil
wees nie? Hoekom moet ek altyd teen die golwe baklei?
No comments:
Post a Comment