Thursday, October 5, 2017

Bloemfontein, o, Bloemfontein

Bloemfontein.  Dit is waar ek nou is.  Al vir die afgelope twaalf jaar.  Ek is baie grootbek en vertel dat ek ook net hier wil weg. Dat ek moeg is om hier te wees. Ek is moeg vir die werk, moeg vir die weer en net moeg vir die mense. Die moeite-mense. 

 Jy sal die Vrystaat in die hartjie van Suid-Afrika vind, waar Lesotho styf teen hom in ’n boontjie vorm lê.  Die provinsie vind homself tussen die Vaalrivier aan die noorde en die Oranjerivier aan die suide.  Die Vrystaat is bekend vir sy vlaktes, waar jy oor die graslande en mielievelde tot in jou toekoms kan uitstaar.  Tog, aan die Noordooste van die provinsie begin die sandsteen berge uitstaan en jy wil jou verstom aan die skoonheid van die omgewing, slegs ’n paar kilometers weg van nêrens en niks.

Die provinsie is die graanskuur van Suid-Afrika en staan as gevolg van die landbou en die ryk goudvelde sentraal tot die ekonomie.  In Mei 2011 het Manguang Suid-Afrika se nuutste metropool geword en beskik oor ’n gevestigde institusionele, opvoedkundige en administratiewe infrastruktuur. Die provinsie huisves die Appèlhof, die Universiteit van die Vrystaat en die Sentrale Universiteit van Tegnologie.

Die hoofstad van die Vrystaat is Bloemfontein.  Die taalverspreiding is 64.2% Sotho, 12.7% Afrikaans, 7.5% Xhosa. Volgens die 2011 Sensusopname is daar 2 745 590 mense woonagtig in die provinsie, wat 5.3% van die land se bevolking uitmaak.  Die totale oppervlak van die Vrystaat is 129 825 vierkant ’n meter, 10.6% van Suid-Afrika se oppervlakte en dus die derde grootste provinsie in die land.

My eerste ervaring van die Vrystaat, wat ek regtig kan onthou, was in 2005. Ek het gedink dit was die lelikste plek wat ek nog ooit gesien het. Ek het groot geword in die Boesmanland en daarna Namakwaland en was vir ’n tydjie in Stellenbosch. Ek het die Wes-Kaap geken, asook die Suid-Kaap se woude en landskappe.  Ek was al in Mpumalanga by Pelgrim’s Rest en Sabi Sabi, ek het God’s Window gesien, in die Tsitsikama woude gestap en kreef uitgehaal in die Weskus by McDonald’s baai.  Waarom straf my ouers my so om my Bloemfontein toe te stuur om te gaan studeer?  

Ek dink nou nog terug aan die roesbruin, amper rooi sand wat so oor die droë vlaktes gewaai het, ek met my ken op my knieë in my pa se groen Toyota Camry moes maar die trane wegsteek tot my pa my die volgende dag groet. Ek is net hier vir drie jaar tot ek my graad voltooi het.  Ek gaan weer terug na die see, die berge en seker maar die wynlande - ja, definitief terug na die wyn.

Maar hier is ek steeds. Twaalf jaar later

Ek het my hart hier verloor, nie net my lewensmaat hier ontmoet nie, maar oor die landskappe (of die tekort daarvan), die ooptes en dan so af en toe ry jy ’n entjie tot by die voet van die Maluti berge en ek voel my gemoed in die hemelruim opvaar, want die dag toe my pa my hier afgelaai het, het hy my eintlik huis toe gebring.

Die Vrystaat is mooi, ja, is die Vrystaat wil ek bly. Veral in die herfs waar die goue grasvelde in die son blink. Maar Bloemfontein?  Dit is ʼn aaklige en deesdae 'n vuil plek.  Die mense ly almal aan padwoede.  Seker as gevolg van die stof wat elke dag so in hulle oë waai. Die rooi droë grond.  As dit nat word, is dit net ʼn kleierige gemors waarin niks wil groei nie. Tragiese plek wat met rooi oë en hooikoors gevul is.  Dit is seker hoekom ek soms met ʼn jong kind se groot-oog verwagtinge die dag aanpak. Mooi rose, meisies en boerseuns wat met kortbroeke en check-hemde klasloop.  Die meisies is mooier as die boere en raak elke jaar net jonger soos ek ouer word.  


Die Universiteit is nie aldag te sleg nie en is ’n goeie plek om te werk as jy jou jeug wil bewaar of saam met jou omgewing wil verouder nie. Jy word gereeld getannie of gemevrou. Ek moet gereeld in die spieël gaan kyk om net seker te maak dat daar nie nog n plooi is nie. Elke jaar is daar net meer mense, studente, eintlik kinders wat nog in die skool hoort. Twaalf jaar in Bloemfontein, maar ek dink dit gaan langer raak. 

My voete jeuk gereeld nog om die pad te vat, maar as ek begin dink om my tasse te pak en ’n skuif te maak dan trek my bors toe en ek wil aan die huil raak. My tuiste is tog in hierdie verlate plek, of ek dit nou wil erken of nie. 

Monday, April 24, 2017

Veranderinge is nie vir almal nie

Ek doen nie goed met veranderinge nie. Punt. Ek het altyd gedink ek kan dit hanteer. Ons het blykbaar baie getrek toe ek kind was. Plaas, Kenhardt, Springbok, Stellenbosch, Bloemfontein.  Die laaste twee was op my eie.  In Bloemfontein het ek al verhuis.  Vyf keer, as ek reg tel. Met elke verskuiwing het ek dit as ʼn nuwe uitdaging gesien.  Wees nou wie jy wil wees, verander alles wat jy wil – niemand ken jou hier nie.  Jy gaan nou vriende hê, maar maak nie saak hoe ek myself probeer motiveer het nie, ek wou altyd net terug plaas toe.  Ek kan dit seker nie as my eerste blyplek identifiseer nie. Ek dink my pa het vertel dat hulle dorp toe getrek het toe nommer twee klein was.  Daar was ʼn erge droogde en as my pa nie begin werk het nie, sou hy als verloor het.  

My pa het die plaas by my oupa gekoop.  Hy het die stoor stelselmatig na n huis omskep. Hy het alleen daar gebly tot hy met my ma getrou het, n jong meisie van die Kaap. Daar was n droogte. Ek is nie seker of dit al was toe my oudste suster al gebore was of voor dit nie. Hulle het swaar gekry en my oupa het vir die handlanger betaal.  My pa het op die ou end die man laat gaan sodat hy die geld kon gebruik sodat hy en my ma net kon kos koop.  Dit wat die plaas nie kon lewer nie.  In die Boesmanland was dit alles behalwe vleis, melk en eiers.  Die droogde het sy tol geeis.  Die boere in die omgewing het swaar gekry en die Landbank moes help.  My pa het die aand aan sy vrou gefluister dat hy al sy vee gaan verkoop, want die skuld raak te baie en hy kan nie vir sy gesin sorg nie. My ma het begin huil, want die grond het haar aangeneem en sy het gesmeek dat hy moet uithou. Dit sal beter raak.  Hy het onderneem dat hy dit net sal moet doen as dit nie binne die volgende week begin reën nie, want die moontlikheid dat hulle alles kan verloor is daar.  Wanhopig, maar sterk is die geloof waarin hulle steeds staan, het hulle gaan slaap.  Dit het die volgende dag begin reën.


Loskop.  Dit is die plaas se naam.  ʼn Droë plek, ʼn verlore plek, maar ʼn plek waar jy altyd sal deel wees en ʼn plek waar jou drome op die arende se vlerke sweef.  Ek begin altyd huil wanneer my pa begin praat om die grond te verkoop.  

Friday, April 21, 2017

Mense en hulle stories

Elkeen het sy storie om te vertel. Ek weet nie altyd wat myne is nie. Ek voel gereeld of myne nie oorvertelbaar is nie. Want ek het nie daai “oemf”-oomblikke nie. Die oorhoofse ervaring is dat ek net voortstrompel in die algehele en dat ek nie ʼn duidelike of definitiewe draaipunt in my omstandighede het nie. 

Ek het net die donkerte. 

Die skaduwees wat my gereeld agtervolg en in my oor fluister. Die sagte geskil wat net wat dat ek struikel sodat hulle my in hul koue arms kan toevou. Elkeen 'n ander rede en manier om my te vertroos. Maar dit het duisende ander mense ook tog. 

Ander se stories is iets wat my laat wakker lê. Ek sal ander mense se stories oorvertel, want ek onthou dit beter. Ander mense se stories is net soveel snaakser, meer avontuurlik en inspirerend. Ander mense se stories dra nie so baie grysheid wat agter elke boom wag nie. 

Ek dink wel baie oor my eie storie. Ek sien myself as ʼn aspirant skrywer en dan moet jy mos ʼn storie hê. Die eerste aangrypende hoofstuk. Die ding wat maak dat iemand nie jou verhaal wil neersit nie. Ek het baie hoofstukke, verskillende kinkels waar ek net weer iewers my voet neergesit het. Ek is nou klaar hiermee. Blykbaar het ek meer keerpunte gehad as wat ek besef. As mense my stories wil hoor, moet hulle liewer in my kop klim.  Dit is waar al die aksie eintlik is. En ek moet erken dat dit nogal prettig kan raak. Natuurlik kan jy ook baie leer deur net aandagtig te luister - na die ondertoon van my gedagtes en kommentaar. 

Ek wonder gereeld oor wat en wie bygedra het tot wie ek vandag is. My vermoede is dat hierdie gevoel by my aangewakker is deurdat ek my kinders se lewe met my eie (probeer) vergelyk. Dis tog al wat ek as voorbeeld het om vir hulle 'n goeie fondament te gee. Wat is regtig MY verhaal, wat is die titels van my hoofstukke, die karakters wat konsekwent gebly het, asook dié met 'n vlugtige verskyning wat die grootste spore gelaat het. Ek wil nie te veel oor gister te dink nie, maar droom graag oor die môres. Ek doen 'n doelbewuste poging om op vandag te fokus want in die toekoms is dit ook daarmee heen. 

My storie is vandag. My man se storie ia vandag en my kinders se stories hardloop te vinnig vir my. En terwyl die donkerte elke dag om die hoeke hulle hande vir my uithou, besef ek dat ons ons vier slegs karakters in mekaar se lewens speel en dat ons hoofstukke nou oorvleuel. 

Net die skrywer weet vir hoe lank nog.


Thursday, April 20, 2017

Aan die begin

Vandag hou ek weer nie van my kinders nie. Ek kyk straks voor my uit in die spieël om grimering aan te sit en al waaraan ek kan dink terwyl hulle albei onder my voete kerm en skree is: “hoekom haat ek myself so baie? Hoe kan ʼn vrou haarself so minag om dit aan haarself te doen en vir almal vertel hoe gelukkig sy is? Nege maande is weg van jou. Jy het geen beheer van jou eie liggaam nie. Ongemak, rekmerke, vetsug en kots. En dan begin dit eers. Vuil doeke, skree, moan, min slaap en nog kots. En vir een of ander rede sien ek kans vir nog, so asof een nie genoeg is nie. Fok, ʼn nuwe plooi.

Vandag is ek moeg, geïrriteerd, deurmekaar en gatvol. Ek staan hier voor die spieël en sit my masker aan. Ek is sterk, vol vertroue en glimlag vir die onnoselheid waarmee ons samelewing gestraf word. Ek is mens, ek is vrou en bly vandag uit my pad uit, ek gaan jou stoomrol – met ʼn glimlag op my gesig. My masker. Dis wat almal wil sien, Albertus ingesluit. Hulle wil nie die klein dogtertjie sien wat met haar hande in haar donker (boksgekleurde) hare sit en haarself tussen haar skoene onder in die kas heen en weer wieg en ook net lieg, en lieg, en lieg nie. Alles gaan nie OK wees nie, maar jy sê dit steeds. “Dis nie so erg nie” “Hy is lief vir jou” “Jy is sterk” “Jou kinders hou van jou” En terwyl jou dominante self die voortou wil neem en jy wel uit die as wil klim, dan staan al die ander stemme ʼn kring om jou en lag, want jy is so groot mislukking soos ander en jyself, dink jy is.

Ag, hy het die mooiste oë en dit maak my hart so bly as hy sy handjie uitsteek en vir my mamma sê. My seun, my liefde my lewe. Ek wil vir jou als gee. Al die avonture leer en saam met jou lag en laf wees. My dogtertjie, jy met jou vier tande wat met ʼn helder ogies vir my lag. Ek wil jou net vashou en styf teen my druk. Want genade kind, maak nie saak in watter era jy gebore is nie, jy sal die swakker geslag bly. Ek sal jou moet leer om vir almal met trots jou middelvinger te wys. Jy moet sterk wees. Dit is seker nie maklik om ʼn ma te hê wat in haar kop lewe nie. Ek is daar, maar raak vinnig weggedra na ʼn ander wêreld, droom van die oudae en droom van beter dae. Maak planne vir die toekoms en is teleurgesteld dat dinge nie vandag uitwerk nie. Dis omdat ek gedurig na die wolke kyk wanneer ek stap dat ek nie kyk waaroor my voete val nie. Ek dan kry ek ʼn klein handjie klap deur my gesig en die herhaaldelike “Mamma! Mamma! Mamma KYK!” bring my terug na ʼn deurmekaar huis en ʼn toilet wat nie wil ophou drup nie.


Vandag hou ek nie van my kinders nie, want vandag wil ek ineenstort en ek wil nie getuies hê nie. My swak fondamente is nou eers weer geskud en ek sit met tonne onsekerheid en vrae en alles wat gelyk loop. Albertus wil nie hieroor praat nie, want dis blykbaar al waaroor ek praat. Tog moet ek weet. Ek benodig ʼn stap een, twee en sewentig. Asook opsies a, b en c. Jy weet, soos daardie avontuurboeke: As jy by die deur in gaan, gaan na bladsy 180, as jy weghardloop, gaan na bladsy 3. Dan die groot vetgedrukte woorde op bladsy 3: JOU AVONTUUR IS VERBY. Ten minste kan jy dan oor begin met die verhaal, vat jou goed en trek Ferreira. Net jammer ek het nou te veel goed en wil nie meer trek nie, want – glo dit of nie – ek is meeste van die tyd gelukkig. Waar het my verhaal begin? Hoekom is ek weereens vandag hier? Op ʼn plek waar ek nie wil wees nie? Hoekom moet ek altyd teen die golwe baklei? 

I sometime forget to smile...

Ek trek al by April 2017. Ek kan dit nie glo nie. Die tyd vlieg verby en ek moet net aan die jet vasklou en hoop dat ek nie die pad mis nie. Dis alewig 'n wedren tot die eindstreep en daar is so baie grillerige mense wat daarop uit is om jou te pootjie. En op die ou end trek jy so diep in jou dop in dat jy alleen in die donker sit en niemand kan jou daar uit haal nie.

Ek dink die ergste is om aan jouself vas te klou en die heeltyd te onthou wie jy is en wat jy eintlik wil bereik. Almal skep hierdie verwagting van jou en sit jou op 'n plek waar jy nie eintlik wil wees nie. Tog is dit so maklik om jouself net te verloor in die stroom. Jy raak soos die ander dwalende siele wat elke dag uit die bed gesleep moet word, doen net wat gedoen word en sit agter die rekenaar en grom vir elke persoon wat in jou kantoor inkom.

Ek was op 'n stadium in staat om net te wees wie ek is. Ek het elke oggend uit die bed gespring en met 'n lied in my hart na die werk gery. Altyd 'n glimlag op my gesig en almal gehelp. Tot een van my kollegas gister vir my gesê het dit is so lekker om my weer te hoor lag.

Nou probeer ek dink wanneer laas ek lekker gelag het. Die borrelende laat dit als gaan, hou jou maag vas tot jy trane in jou oë kry lag? Ek weet nie. Net so af en toe se haha, maar nie die tipe lag wat jou verfris laat nie.

En nou is ek nou weer so geirriteerd ek wil skree!!!!!